Ons nooi u uit om op die volgende maniere betrokke te raak by Triomf Kliniek:
- Mediese dienste
- Tandartsdienste
- Paramediese dienste
- Sorginstansies
- Administrasie
- Verpleegsdienste en verwante dienste
- Berading
Ons nooi u uit om as ’n vrywilliger op te tree. Stuur vir ons ’n e-pos aan triomfpretoria@telkomsa.net, of voltooi die aanlynvorm. Ons sal so gou moontlik ’n volledige aansoekvorm aan u stuur.
Medici kontakvorm
Dr. Marc Röscher
Dr. Röscher het in die jaar 2000 sy graad in dermatologie aan die Universiteit van Pretoria verwerf.
Na sy graadkursus het hy ook nagraadse opleiding in Newcastle in die Verenigde Koningkryk in die vakrigting dermatologiese sjirurgie ondergaan. Dr. Röscher het verder in die VSA studeer en het sy kundigheid in die areas van fotodinamiese-terapie (Nashville) en laserterapie (Charlotte) uitgebrei.
Na hierdie studies het hy ’n belangstelling in die bestuur en voorkoming van velkanker ontwikkel. Verder het Dr. Röscher spesialiskennis in dermatologiese prosedures asook vel- en lasersjirurgie bekom.
Hy was direkteur van die dermatologie sjirurgieprogram van die Universiteit van KwaZulu-Natal se departement dermatologie, tot op hede steeds die enigste akademiese dermatologie sjirurgieprogram in Suid-Afrika.
Dr. Röscher is ’n mede-stigter en president van die dermatologie- en estetiese-sjirurgieliga (DASIL). In Oktober 2016 het hy die eer te beurt geval om die derde jaarlikse Lawrence M. Field (MD) eerbetoningslesing tydens die Amerikaanse Vereniging van Dermatologie Sjirurgie (ASDS) se jaarvergadering te lewer.
Hy is ’n medestigter en hoof operasionele beampte van die velkankerstigting van Suid-Afrika. Dr. Roscher is ook die redakteur van die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Dermatologie Sjirurgie.
Dr. Röscher verrig gratis (pro bono) velsjirurgie spesialisdienste vir velkankerpasiënte by Triomf Kliniek.
Dr. Hannelie Groenewald
Dr. Hannelie Groenewald is ’n algemene praktisyn. Sy het in 1992 haar mediese graad verwerf. Haar huisdokterjaar voltooi sy by 1 Militêre Hospitaal in Voortrekkerhoogte, waarna sy haar eie privaatpraktyk bestuur tot 2003.
Sy verhuis in daardie jaar na Afghanistan waar sy woon en deeltyds in ’n sendinghospitaal werk. Gedurende haar tyd in die land verskaf sy ook tuisonderrig aan haar kinders.
In 2014 keer Dr. Groenewald terug na Suid-Afrika en sluit haar by Triomf Kliniek aan.
Dr. Jeannette Joynt
MBCHB(Pret), H.Dip.Int.Med (SA), MPraxMed (Pret), MMed(DERM)(Pret)
Dr. Jeannette Joynt is ’n dermatoloog van Pretoria. Hier het sy haar mediese studies in 1988 aan die Universiteit van Pretoria voltooi.
Na haar MPraxMed studies in 1995 aan die departement huisartskunde van Tuks, ontvangs sy die Glaxo Wellcome toekenning as beste student.
Dr. Joynt verrig ’n dienstydperk in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en voltooi haar diploma in interne geneeskunde in hierdie tyd. Sy ondergaan ook ’n kursus in lugvaartgeneeskunde.
In 1999 werk Dr. Joynt in die dermatologie departement van die Universiteit van Pretoria en sy verwerf haar spesialisgraad in dermatologie in 2006.
As privaatdermatoloog werk sy vir nege jaar in die Skinmatters praktyk. Hier doen sy uitgebreide ondervinding op deur die verskaffing van ’n wye verskeidenheid dermatologiedienste.
Daaarna skep Dr. Joynt haar eie dermatologiepraktyk. Sy fokus op kankerdiagnose, mediese dermatologie en vel-laser behandelings.
Dr. Joynt verskaf gratis (pro bono) dermatologiedienste by Triomf Kliniek.
Prof. Steve Rossouw
Prof. Steve Rossouw verwerf sy mediese graad aan die Universiteit van Pretoria en voltooi sy nagraadse studie in die rigting MMed Interne Geneeskunde aan die Universiteit van Stellenbosch.
Hy bly drie jaar in Londen in die Vernigde Koningkryk waar hy die graad DPhil verwerf. Dan werk hy ook vir twee jaar in Kanada en verwerf die FRCP kwalifikasie.
In Suid-Afrika studeer Prof. Rossouw verder in die vakrigtings tropiese geneeskunde en beroepsgeneeskunde.
Hy is nou betrokke by die opleiding van mediese studente aan die Kalafong Hospitaal se departement van interne geneeskunde.
Prof. Rossouw verskaf gratis (pro bono) mediese diente aan pasiënte van Triomf Kliniek.
Dr Marianne Duvenage
Dr Marianne Duvenage, is een van die nuutste toevoeging tot die rooster van Dermatolgie spesialiste wat hul tyd skenk om mense wat andersins nie dokters kan bekostig nie, sonder koste te help. Haar reputasie as een van die beste dermatoloë in Pretoria loop haar vooruit, en die behoeftige pasiënte van Triomf trek die voordeel van haar spesialiskennis.
Dr Duvenhage het in 1989 gekwalifiseer as dermatoloog by Tukkies onder prof George Findlay.